Plagiaat

Waarskuwing!

Plagiaat is 'n baie ernstige oortreding. As jy jou daaraan skuldig maak, kan jy uit die Universiteit geskors word, krimineel aangekla word of 'n siviele eis kan teen jou ingestel word.

Wat is Plagiaat?

’n Mens pleeg plagiaat as jy iemand anders se idees – gepubliseer of ongepubliseer – aanbied asof dit jou eie is. Mense se idees is onder andere vervat in:

geskrewe teks - artikels, boeke, verhandelings, proefskrifte, koerante, tydskrifte, notas, kursusmateriaal, medestudente se werkstukke, e-posboodskappe, data, rekenaarkode, alles op die Internet, ens.

visuele teks - beeldende en grafiese kuns, foto’s, ens.

multimediaprodukte - webwerwe, videoproduksies, films, CD's, ens.

Musiek - komposisies, lirieke, CD’s, musiek of klankgrepe op die Internet, ens.

gesproke teks - toesprake, kassetopnames, lesings, onderhoude, ens.


Wat is die gevolge van plagiaat?

Plagiaat is 'n ernstige oortreding.
Eerstens is plagiaat ONWETTIG. Dit kan as 'n kriminele oortreding beskou word ingevolge die Wet op Outeusreg 98 van 1978. As 'n student aan plagiaat skuldig bevind word:

  • deur 'n Dissiplinêre Komitee van die Universiteit, kan hy/sy uit die Universiteit geskors word;
  • deur 'n Geregshof, kan 'n boete of gevangenisstraf opgelê word.

Tweedens is plagiaat ONETIES.

  • Dit is in stryd met ons waardes van vertroue en van akademiese integriteit (om ander se werk te respekteer en te verwag dat hulle jou werk sal respekteer).
  • Dit is oneerlik ('n vorm van diefstal).
  • Dit minag die regte van die oorspronklike outeur, asook die kennisgemeenskap waarvan die outeur én die persoon wat plagiaat pleeg, lede is.
  • Dit kan die Universiteit se reputasie skaad, en daardeur die waarde van sy kwalifikasies verlaag.
  • Dit plaas die eerlike werk van ander studente onder verdenking.
Let wel: UP gebruik sagteware en ander meganismes om plagiaat in alle soorte elektroniese tekste te identifiseer en tree deur middel van sy Komitee vir Dissipline (Studente) teen
oortreders op.

Hoe kan jy plagiaat voorkom?

Die moenies

  • Moenie probeer skuil agter onkunde nie. 'n Kriminele oortreding is strafbaar, ongeag of 'n mens dit bewustelik of onbewustelik gepleeg het.
  • Moenie doelbewus plagiaat pleeg (bv. as jy onder tydsdruk is) nie. Dit mag die einde van jou studieloopbaan beteken.
  • Moenie inligting uit elektroniese bronne soos webblaaie "knip en plak" nie.

Die moets

  • Leer selfstandig en krities dink. Lees wat ander oor 'n onderwerp sê, erken die bron, en formuleer dan jou eie mening.
  • Leer en gebruik die korrekte verwysingstegniek in werkstukke, verslae, opstelle, skripsies, verhandelings en proefskrifte. Dit behels onder andere die volgende:
    • Wanneer jy die presiese woorde van 'n ander gebruik:
      • Plaas dit tussen aanhalingstekens indien dit deel vorm van 'n paragraaf wat jy self geskryf het.
      • Spring die sitaat van die linkerkantlyn af in (Eng. left indent), of druk dit in 'n ander/kleiner lettertipe indien dit in 'n aparte paragraaf staan.
      • Vermeld die bron volgens die verwysingsmetode wat die departement of vakgebied voorskryf.
    • Wanneer jy ander se idees wil gebruik, maar dit in jou eie oorde wil stel of opsom:
      • Verander die formulering om by jou skryfstyl aan te pas, of vertaal die sin/paragraaf in die taal waarin jy skryf, MAAR
      • Maak seker dat jy nie die outeur se woorde verdraai om jou eie standpunt te pas nie.
      • Vermeld altyd die bron volledig volgens die verwysingsmetode wat die departement of vakgebied voorskryf.

Riglyne vir korrekte verwysing is aanlyn beskikbaar by http://upetd.up.ac.za/authors/create/reference.htm

Wat kan jy wen deur korrek te verwys en eerlik te wees?

  • Korrekte verwysing wys dat jy op hoogte is van verwikkelinge in jou vakgebied, dat jy wyd gelees het en dat jy weet wie die toonaangewende vakspesialiste is.
  • Korrekte verwysing getuig daarvan dat jou idees verband hou met dié van die kenners, en verleen gesag aan jou argumente.
  • Korrekte verwysing help jou lesers om die bronne wat jy gebruik het, op te spoor.

Vollediger inligting oor plagiaat en die voorkoming daarvan is aanlyn beskikbaar by
http://upetd.up.ac.za/authors/create/plagiarism.htm


© Universiteit van Pretoria: Akademiese Inligtingsdiens 2003.



12 August 2003
Project Co-ordinator: Helga Nordhoff